Deesdae
het bykans elke huis 'n kantoorruimte, of dit nou 'n lessenaar en rekenaar in
'n hoekie van die sitkamer is of 'n spesiale vertrek of buitegebou wat ten
volle as 'n kantoor vir 'n tuisonderneming ingerig is.
Maar
ongeag die grootte en omvang daarvan, verbruik sulke kantore baie meer energie
en hulpbronne in vergelyking met die res van die huis en as jy 'n kleiner impak
op die omgewing wil maak - en boonop jou elektrisiteitsrekening wil snoei - kan
'n paar eenvoudige riglyne help, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die
Chas Everitt International-eiendomsgroep.
'n
Goeie begin, sê hy, is om 'n bykomende asblik vir herwinbare materiaal soos
plastiek, ou batterye en drukkers se leë inkhouers te gebruik en om enige
gebruikte papier soos ou notas en briewe, rekenaarpapier, koerante, tydskrifte,
skoon karton en ou telefoongidse eenkant te hou vir herwinning. Jy kan 0800 022
122 of info@mpact.co.za skakel om uit te vind of daar 'n afhaaldiens of
herwinnigsdepot in jou area is. Ou elektroniese toerusting kan na 'n aangewese
herwinnigsdepot geneem word eerder as om dit na 'n stortingsterrein te neem.
"Tweedens kan minder papier gebruik word deur net die
nodigste e-pos te druk en ander dokumente elektronies te liasseer (natuurlik
met 'n betroubare steunstelsel), deur
albei
kante van die papier te gebruik indien dokumente gedruk word, en deur sover
moontlik alle fakture elektronies te versend."
Everitt
skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat die gebruik van
omgewingsvriendelike skoonmaakmiddels, skryf- en ander kantoorbehoeftes met 'n
hoë persentasie herwinbare inhoud, sowel as hervulde inkhouers vir drukkers en
herlaaibare batterye ander goeie idees is.
"Vierdens
kan elektrisiteitsverbruik aangespreek word. Maak seker dat alle nuwe
kantoortoerusting die Energie Star-waarmerk dra omdat gewoonlik 20 tot 30%
minder krag verbruik as toerusting sonder dié waarmerk. Gebruik plat
rekenaarskerms eerder as ouer skerms om jou rekenaar se kragverbruik met
omtrent 'n derde te verminder.
"Gebruik
ook kompakte fluoorgloeilampe of LEDs eerder as gewone gloeilampe en prop al
jou elektroniese ware in 'n kragpunt met 'n stuwingbeskermer wat aan die einde
van die werksdag afgeskakel kan word - onthou, toerusting op bystand gebruik
steeds krag.
Laastens,
sê hy, kan jy jouself maar op die skouer klop vir elke dag wat jy tuis werk
eerder as om na 'n kantoor te pendel omdat dit hope energie en ander hulpbronne
bespaar en boonop uitlaatgasse help
verminder.




