Rentekoerse is laag. Pryse is laag. Huise is meer bekostigbaar. Waarom staan verbruikers en beleggers dan nie tou om huise op te raap nie?
"Om die eenvoudige rede dat hulle nie genoeg kontant het om die groot deposito's wat die meeste banke steeds vereis om 'n lening goed te keur, te betaal nie - wat staan nog te sê om 'n eiendom sonder 'n verband te koop," sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.
"Verbruikers kan egter munt uit die heersende kopersmark waar kontant koning kraai, slaan deur met familie of kollegas saam te span om 'n beleggersgroep op die been bring."
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat 'n groep van byvoorbeeld 10 mense elk R12 000 kan bydra om 'n 20% deposito op 'n huis ter waarde van R600 000 (waarop geen oordragkoste gehef word nie) te betaal en so 'n verband van R480 000 te bekom.
"Teen die heersende rentekoers sal die maandelikse verbandbetaling op dié bedrag sowat R4320 per maand beloop en die groep beleggers behoort genoeg huurgeld uit die eiendom te verdien om dié koste te dek.
"En met hefboomfinansiering soos dié sal elke belegger 'n 'opbrengs' van 15% op die aanvanklike belegging van R12 000 - minus munispale belasting, enige heffings, en onderhoud - verdien indien die waarde van die eiendom in die eerste jaar met net 3% (R18 000) styg."
Everitt wys daarop dat daar nie baie ander veilige bateklasse is wat so 'n vertoning kan ewenaar nie. Hy maan egter dat beleggersgroepe 'n prokureur behoort aan te stel om 'n formele ooreenkoms op te stel en dat die hulp van 'n ervare eiendomsagent ingeroep moet word om 'n gepasde eiendom te koop.

0 comments:
Post a Comment