Die
Nasionale Padagentskap (SANRAL) het motoriste verseker dat die hoogste bedrag
wat maandeliks aan tolgeld gehef sal word - mits hulle met 'n gewone motor ry -
R550 gaan beloop.
Dis
goeie nuus, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt
International Property Group, aangesien die meeste pendelaars in Gauteng, selfs
met 'n e-kaartjie, andersinds meer sou moes betaal. As die beperking nie gegeld
het nie, sou dit teen 30c per kilometer byvoorbeeld minstens R720 per maand kos
om daagliks tussen Pretoria en Johannesburg vir werk te pendel.
"Maar
selfs R550 per maand - of R6600 per jaar - is 'n stewige som geld as die
gemiddelde huishoudelike begroting in aanmerking geneem word. Daar is onlangs
berig dat mense elke maand kos op krediet koop en dis geen wonder nie aangesien
'n Suid-Afrikaanse gesin wat R18 000 per maand verdien na beraming bykans R13
000 aan behuising (verband of huur) en afbetaling van skuld bestee.
"Dit
laat net R5000 per maand vir kos, vervoer, water en krag, skoolgeld en ander
noodsaaklikhede oor en die koste van dié items styg baie vinniger as die
amptelike inflasiekoers. Die prys van basiese voedsels, soos melk, brood en
mieliemeel het volgens Food Price Monitor die afgelope jaar met tot soveel as
56% gestyg; die petrolprys (in Gauteng het sedert Januarie vanaf R10,43 per
liter tot R11,97 'n liter toegeneem, en Eskom het die prys van elektrisiteit in
Julie met 16% verhoog."
Met
ander woorde, sê hy, R550 per maand kan 'n groot verskil aan die meeste mense
se maandelikse begrotings maak. "Ons stel voor dat veral mense met jong
gesinne nie net goedsmoeds moet aanvaar dat hulle maar vir tolgeld sal moet
opdok nie, en eerder dadelik moet begin om planne te maak om voortaan openbare
vervoer te gebruik.
"En
as hul woonbuurt nie openbare vervoer bied nie, raai ons hulle aan om dadelik
na 'n voorstad waar dit wel beskikbaar is, te verhuis - selfs al is die
huurgeld of verbandbetaling effens hoër."
Die
rede is, sê Everitt, dat verbruikers wat na skole en winkels kan stap en
openbare vervoer kan benut om by die werk te kom meer as die R550 maandelikse
tolgeld kan bespaar. Hulle sal ook bespaar op die loopkoste van 'n motor
(insluitende petrol, diens, versekering en bande) wat volgens die AA nou sowat
R2,41c per kilometer vir 'n beskeie 1600cc sedan beloop.
"Sulke
besparings kan met vrug aangewend word om skuld wat hoë rente dra, soos
krediet- en winkelkaarte, af te betaal en dan vir 'n deposito op 'n huis te
spaar, of om elke maand 'n bykomende bedrag in 'n bestaande verbandrekening te
betaal en so duisende rande in rente te bespaar."

No comments:
Post a Comment